Hugo Hattingh (39) van Wellington is ernstig beseer nadat hy verlede Maandag (7 Julie) in ’n ernstige ongeluk op ’n katamaran aan Thailand se ooskus was.
’n BackaBuddy-veldtog is begin vir Hugo Hattingh (39) van Wellington nadat hy verlede Maandag (7 Julie) in ’n ernstige ongeluk op ’n katamaran aan Thailand se ooskus – sowat 300 km oos van Bangkok – beseer is.

Hugo Hattingh (39) van Wellington in die Wes-Kaap lê in ’n kritieke toestand in ’n Thaise hospitaal nadat hy ernstige brandwonde opgedoen het in ’n bootontploffing. ’n BackaBuddy-veldtog is geloods om fondse vir sy mediese behandeling in te samel.

Tragedie tref ervare skeepskaptein

Hattingh, ’n ervare skeepskaptein bevind hom in ’n lewensgevaarlike toestand nadat ’n katamaran-ongeluk sy lewe op 7 Julie onherroeplik verander het. Die 39-jarige pa van twee seuns het brandwonde oor 80% van sy liggaam opgedoen ná ’n erge ontploffing aan Thailand se ooskus.

Die ongeluk het sowat 300 km oos van Bangkok plaasgevind toe petroldampe in die enjinkajuit vlamgevat en ’n ontploffing veroorsaak het, wat temperature van tussen 1800°C tot 2200°C bereik het.

Volgens Chris Hattingh, Hugo se pa, het die tragiese gebeure begin toe petrol per ongeluk in die enjinkajuit gemors en vlamgevat het. Hoewel die petrol skoonggemaak is, het gevaarlike dampe agtergebly.

“Toe Hugo die kajuit binnegaan om aan die kragopwekker te werk, het die petroldampe wat agtergebly het vlamgevat en ’n ontploffing veroorsaak,” verduidelik Chris.

Hugo het ten tyde van die ongeluk net ’n nylon-kortbroek gedra. Die intense hitte het sy klere en hare verskroei en ook ernstige interne beserings veroorsaak, insluitend skade aan sy ingewande, niere, longe en hart.

Mediese toestand en vooruitsig

Hugo lê tans in ’n hospitaal sowat 200 km buite Bangkok en is aan verskeie lewensondersteunende masjiene gekoppel. Sy familie maak beurte om hom te besoek, terwyl sy suster Candice Hattingh (42) permanent langs sy bed waak.

Indien sy toestand stabiel bly, sal hy minstens drie tot ses weke in die hoësorgeenheid moet deurbring voor ’n lang en onseker pad na herstel kan begin.

Hugo Hattingh is ‘n ervare skeepskaptein. Hy woon en werk reeds 16 jaar lank in Thailand.

Familie in krisis

Die ongeluk het plaasgevind ’n week voordat Hugo sy pasgebore seuntjie, Luka, sou ontmoet. Luka is op 6 Junie in ’n Paarl-hospitaal verwelkom nadat die gesin besluit het om na Suid-Afrika terug te keer vir die bevalling.

Hugo se lewensmaat en hul pasgebore baba kan weens ’n gebrek aan al die nodige reisdokumente nog nie na Thailand reis nie. Hy het ook ’n negejarige seun, Aydin.

Versekeringsnagmerrie vir internasionale werkers

Een van die grootste uitdagings wat die familie tans in die gesig staar, is die gebrek aan mediese versekering wat internasionale voorvalle dek.

“Hoewel Hugo voorheen ’n mediese fonds in Suid-Afrika gehad het, het dit slegs binne die landsgrense dekking gebied,” lui die verduideliking op die BackaBuddy-veldtog.

Waarom kon hy nie internasionale dekking kry nie?

Die meeste internasionale versekeraars sluit voorvalle wat voortspruit uit professionele aktiwiteite op seiljagte uit. Sy beroep word ook as hoërisiko beskou. Sommige versekeraars bied slegs dekking vir eenmalige ontspanningsvaartogte en selfs beperkte reisversekering via sy kredietkaart is geweier

Moontlike dekking onder die boot se polis word ondersoek, maar dit is onseker of dié spesifieke voorval gedek sal wees.

Hattingh is ’n ervare skipper wat klein bote, insluitend seiljagte en katamarans, oor die wêreld heen vervoer. Hy het sy eie onderneming, GlobeSail.net, in Thailand waar hy onder meer boottoere met sy twee bote doen.

Die oud-Paarl Gimnasium-leerder woon reeds sowat 16 jaar in Thailand en het oor die jare ’n gerespekteerde naam as skeepskapitein opgebou.

BackaBuddy-veldtog toon gemeenskapssteun

Die “Help Save Hugo Hattingh’s Life” BackaBuddy-veldtog het reeds merkwaardige steun van die gemeenskap ontvang. Meer as R300 000 van die R850 000-teiken is reeds ingesamel.

Hoe om te help:

• Besoek die BackaBuddy-veldtog: “Help Save Hugo Hattingh’s Life”
• Kontak Chris Hattingh by 064 153 2471 vir meer inligting

You need to be Logged In to leave a comment.